top of page

SKOOL GESKIEDENIS


1917

Mnr J.A.S van Heerden, nuutaangestelde skoolhoof van die pasgestigde hollandsmediumskool berig na sy aankoms: “Wat sou ek daar vind? Geboue sonder meubels of skoolbanke.” Met paraffienkassies en planke is banke prakseer.

 

In April 1917 skuif 215 leerlinge van Mnr Prins se Sentraal Skool saam met die drie personeellede, : Hoof en Mej Jordaan en Haarhoff, na die nuwe gebou wat vir 200 gebou is.


1918

Met die aanvang van die nuwe jaar, was daar al sewe leerlinge in die eerste standerd ses klas.

Gedurende Oktober 1918 het ‘n onbekende siekte, later bekend as Die Groot Griep, honderde inwoners afgemaai. Skole was vir etlike dae gesluit. Die skoolgebou is as tydelike hospitaal ingerig. Onderwysers het help verpleeg en skoliere het sop versprei by huise waar met ‘n rooi vlag pasiënte aangedui is.

​

Skool nou bekend as Afrikaans Mediumskool. Mnr A.H. Naude neem waar as hoof.

1919

Mnr J.H. Gereijbe word as nuwe hoof aangstel en beklee hierdie pos to 1949. Die nuwe skool was alreeds te klein en vier klasse maak gebruik van lokale by winkels in Swanstraat. Volgens wat vertel is, is selfs ‘n drankwinkel gebruik!

1920

Ouers stuur ‘n petisie aan die owerhede en dring aan op Afrikaans as onderrigtaal.

1922

Tydens die mynstaking is die skole om veiligheidsredes vir ‘n paar dae gesluit. (Is dit regtig 1922 of dalk 2007?)

1923

Senior Klasse tot st. 8 ingestel.

1925

Skool nou bekend as Benoni Afrikaans Medium.

1926

‘n Dogterskadeorkes begin.

1929

26 September 1929 – Die skool se naam verander na Brandwagskool. Volgens Mnr Greijbe is die naam ontleen aan die eg Boeretradisie om voortdurend op die uitkyk te wees vir gevaar en dan betyds ‘n waarskuwing te rig. Die skool moes ook brandwag staan “vir die behoud van die taal, sedes en godsdiens van ons volk”.

1932

Die debatsvereniging word goed ondersteun en die eerste boereorkes “vrolik die geleentheid op”.

1933

Gedurende die Depressiejare was daar ‘n toestroming na die stede, veral daan die Rand, met die hoop om ‘n beter heenkome te vind. Gevolglik het die getal leerlinge ook gestyg.


1936

Steeds te veel skoliere lei tot oorloopklasse wat in die sinkgebou in Harpurlaan gehuisves word (voorheen Benoni High). Volgens wat vertel word, was die hele skool van sink en is dit die BLIKTABERNAKEL genoem. Kort voor lank is dit sommer tot die Blikskool verkort! Sommige klasse is na die Jodesaal in Bunyanstraat oorgeplaas. Die skool was steeds van gr. 1 tot st. 8 hoewel die hoërskoolleerlinge hoofsaaklik in die hoofgebou skool gegaan het.

1938

Eerste Matriekklas het twaalf leerlinge. Hierdie leerlinge samel as oudskoliere geld in en rig ‘n monument op ter herdenking aan die 1938 Groot Trek. Hulle bou ook twee tennisbane.

1940

Atletiek : Rekords, 220 treë van Manie Prinsloo en 1 myl van Johan Botha staan vir die volgende 10 jaar.


1943

Wapen. Op aanbeveling van die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Mnr Coetzer, is besluit om die rotsformasie, die Sentinel op die wapen aan te bring.

​

Die bergspits is beskou as voorbeeld van ‘n ewigdurende, altyd wakende brandwag. “Mnr Kobus Esterhuizen teken die ontwerp en Die Munt rond dit af. Die letter B onderaan die wapen, simboliseer die leuse EK STAAN BRANDWAG.

1947

‘n Kadetkorps word op die been gebring en vorm later deel van die optog tydens die koninklike besoek aan Benoni in 1947.



1950

Aparte seuns en dogterskole was departementele beleid “Met die hoeksteenlegging is aanvaar dat die nuwe gebou wel vir dogters gebou sou word” en Hoër Meisieskool Brandwag sou heet.


Die seuns sou in die ou gebou agterbly.

​

Mnr Bauling veg  vir dubbelslagtige skool en slaag.

​

Naam verander na Brandwag Hoërskool. Hierdie verhoogde status word in die stadsaal gevier met ‘n konsert.

​

Mnr Bauling word as nuwe hoof aangestel tot 1956.

1952

23 Januarie 1952 – Die outydse, historiese poskoets op pad van Orighstad na Kaapstad, word by die skool ontvang en ‘n gedenkplaat word onthul.

1953

Die nuwe skoolgebou (huidige gebou) word betrek, maar is van meet af aan te klein en aanbouings is dadelik beplan.

bottom of page