GRAAD 8 KAMP

2019 Gr. 8-KAMP

As ek die Gr8-kamp in ‘n paar woorde moet opsom, sal dit definitief die volgende wees: Baie lekker, BLOEDIGWARM, Uitputtend, Nuwe vriende, Gedaan en Spanwerk.

‘n Klompie van ons het amper die kamp misgeloop nadat daar nie vir almal van ons plek op die busse was nie. Gelukkig is daar gou ‘n kleiner bussie gereël om ‘n paar benoude Gr8’s na Paradeisos kampterrein in Cullinan te neem.

Van lekker, was daar baie! Van lekker lag vir al die snaakse grappe van ons kampleier, Spanner, tot by elke aktiwiteite wat aangebied was. Ons het deelgeneem aan aktiwiteite waar ons soos hase in hoepels moes hop wanneer ons met “Ching-Chong-Cha” gewen het. Ons het Kringetjies-en-Kruisies gespeel waar onsself die kringetjies en die kruisies was. Tydens een van die speletjies het ons ‘n duur les geleer oor die belangrikheid van goeie kommunikasie, toe ons per ongeluk een van ons geblindoekte spanmaats teen ‘n muur laat vas hardloop het. Nodeloos om te sê dat daar deur alles baie nuwe vriendskappe gesmee is.

Dit was warm, bloedigwarm, selfs in die aande. In die kamers, met die beddens wat so netjies gespasїeer was, het ons soos skaap-tjoppies op ‘n braaivleis vuur gevoel wanneer ons gaan slaap het. Die intense hitte was dan ook die rede waarom die wateraktiwiteite vir die meeste van ons die lekkerste was.

Die klem gedurende die kamp het geval op spanwerk en respek vir mekaar. Die skoollied was aangeleer en daar was seker gemaak dat elkeen dit ken. Die saadjie van eenheid en trots was geplant wat ek glo sal groei tot die verstaan wat dit is om ‘n ware Waggie te wees.

Sondagoggend word die kamp afgesluit met ‘n kerkdiens wat ook deur ons ouers bygewoon kon word. Baie moeg maar met goeie herinneringe en ‘n opgewondenheid oor die jaar wat voorlê keer ons terug huis toe.

Graag bedank ek namens die Gr. 8’s die Gr 8-personeel, in besonder vir Juf Strydom, asook die VLR-lede vir ‘n ongelooflike lekker naweek!